DJ Hi-Tek van Die Antwoord word al ses dae vermis 2010-01-29 04:58
Druk hierdie artikel
THEUNIS ENGELBRECHT
Kaapstad Groot kommer heers in musiekkringe nadat dit gister bekend geword het dat DJ Hi-Tek, ’n lid van die Kaapse groep Die Antwoord, reeds ses dae vermis word.
![]()
Die Antwoord se debuutalbum, $O$, word volgende maand in Europa uitgereik nadat die groep einde verlede jaar ’n kontrak met die Nederlandse musiekmaatskappy Magnetron Music gesluit het.
Die groep moet ook in April in onder meer Frankryk, België, Amsterdam en Londen gaan optree.
Die ander lede van Die Antwoord is die Kaapse rapper en skrywer Ninja en die rapper en sangeres Yo-Landi Visser.
Op die groep se webblad word DJ Hi-Tek beskryf as ’n “beat monster”, Ninja as ’n “zef rap-rave master” en Visser as ’n “fresh, futuristik rich bitch”.
’n Dringende soektog na DJ Hi-Tek is gister op Visser sowel as die groep se Facebook-profiele van stapel gestuur. Dit is nie bekend wanneer en waar DJ Hi-Tek laas gesien is nie.
Die Antwoord het ook ’n foto van hom op die internet geplaas indien enig iemand hom op straat sou herken.
Dit het gelei tot ’n groot konsternasie onder Die Antwoord se digby 7 000 aanhangers op Facebook.
Van hulle het laat weet hulle het hom in Johannesburg en Durban gesien, en iemand van Pretoria het laat weet: “Dit lyk baie soos die bra wat vanoggend die muur ge-tag het by die Daspoort-tonnel.”
’n Ander aanhanger het voorgestel Ninja en Visser moet in Stikland na DJ Hi-Tek gaan soek.
Ninja en Visser het gevra indien enigiemand vir DJ Hi-Tek gewaar, moet hulle hom vra om dringend kontak te maak met hulle.
Mense wat hom gewaar, kan ook met Die Antwoord op hul Facebook-blad kontak maak.
Die Antwoord het talle Facebook-aanhangers – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Europa en Amerika.
Toe die groep se nuwe webblad,
www.dieantwoord.com, onlangs aanlyn bekend gestel is, het dit so ’n stormloop van besoekers van oor die wêreld heen ontketen dat die groep se internet-bediener twee keer in die eerste 24 uur die gees gegee het weens die groot hoeveelheid webverkeer.
- Die Burger